Modeparade oortref verwagtinge
OUDTSHOORN NUUS – Die eerste en langverwagte Chic Classical Couture modeparade wat Saterdag by Jamstreet aangebied is het alle verwagtinge oortref en bykans elke sitplek was vol.
Mede-eienaar van Jamstreet Danie du Plessis het Woensdag gesê dat hulle hoog in hulle skik is met die ondersteuning van die unieke geleentheid. “Ons het groot kostes aangegaan, maar dit was die moeite werd. Die water is getoets en daar is beslis potensiaal vir die jaarlikse aanbieding van so ‘n spoggeleentheid.”
Hy sê dat hulle baie lesse geleer het en dat almal wat betrokke was by die reëlings aangedui het dat hulle graag weer in 2013 betrokke sal wil wees. ” Hierdie gaan ‘n geleentheid word waar Oudtshoorn op ‘n ander terrein kan pronk en volgende jaar s’n gaan nog groter en beter wees,” het Du Plessis voorspel.
Die bekende Kaapse ontwerper, Jacques Lagrange, wat net by spesiale geleenthede sy ontwerpe vertoon en wie se reeks uitsluitlik vir die modeparade ontwerp is het homself ook reeds verbind tot 2013 se modeparade en so ook Ruald Rheeder, wat bevestig het dat hy vir die 2013 geleentheid ‘n mans- en damesreeks na Oudtshoorn gaan bring.
Plaaslike ontwerper Sandra Marais, het haar ook reeds verbind. Tydens die modeparade is van plaaslike dames en mans as modelle gebruik gemaak. Jacques Lagrange het die internasionale model, Nina Michael, saamgebring om van sy ontwerpe op die loopplank te vertoon.
Volgens Du Plessis is ‘n komitee reeds in die lewe geroep om te beplan aan volgende jaar se Karoo Sjiek Mode Extravanza. Details oor die projek word binnekort in die pers bekendgemaak.
Tien ontwerpers gaan genooi word en volstruis as mode artikel gaan baie prominent figureer terwyl van Suid-Afrika se bekendste sangers ook by die geleentheid gaan optree.
ARTIKEL: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-REDAKTEUR